‘SY WAS BLY DAAR-OOR DAT HIERDIE GROOT STERRE VAN HOLLYWOOD DAARIN BELANGSTEL OM HAAR TE SPEEL’
OP ’N sonnige middag in Mei 1984 stap Griselda Blanco deur die voorportaal van die Marriott-hotel in Newport Beach, Kalifornië. Sy is onbewus daarvan dat ondersoekers van Amerika se dwelmpolisie (DEA) haar baie fyn dophou.
Die berugte “godmother” van dwelms, hoof van ’n Colombiaanse kartel wat elke maand ’n verstommende 1,5 ton kokaïen na Amerika smokkel, is onder die indruk dat sy ’n geldwasser gaan ontmoet.
In werklikheid is die ontmoeting deel van ’n plan om die genadelose Griselda (toe 41) vas te trek. In daardie stadium het sy laag gelê nadat sy doodsdreigemente van mededingende dwelmkartelle gekry het. Sy was glo vir tot 250 moorde verantwoordelik, onder meer sluipmoorde op al drie haar mans.
“Sy het ’n blonde pruik, ’n mantel en bypassende rok en hoëhakskoene aangehad. Maar sy was herkenbaar aan die gesplete ken en kuiltjies wat ons op foto’s gesien het,” sê Bob Palombo, die DEA-agent wat langer as ’n dekade op haar spoor was.
“Ons was in die wolke, want sy was iemand wat paranoïes was en heeltyd beweeg het. Tot op daardie oomblik het nie ’n enkele wetstoepasser in Amerika Griselda al in lewende lywe gesien nie. Ek en my kollega het vir mekaar gekyk en stilweg gesê: ‘Bingo!’”
Bob en sy medeagent was so naby aan Griselda, hulle kon haar gryp. Tog het hulle toegelaat dat hul