Langs die lange teerpad noordwaarts na Kasane flits die bos eindeloos verby – met geluk stap ’n olifant dalk iewers oor die pad om die eentonigheid te verbreek. Maar dan, skielik, net suid van die dorpie Pandamatenga, val die bosse weg en strek landerye oor die pannekoekplat landskap tot teen die horison. Hier kan sorghum staan, of sonneblom, of verskeie soorte boontjie.
Wie is die mense wat hier boer? Dít het jy seker ook al vir jouself gevra wanneer jy hier verbyry, want Pandamatenga is vir die meeste net ’n deurrydorpie – tensy jy dalk moet brandstof ingooi.
Ek het vir ’n langnaweek by Johan en Rentia Otto gaan afpak wat my aan talle ander boere voorgestel het. Ek het saamgebraai en gekuier op hulle groot stoep terwyl hulle kleinkinders (Johan en Rentia se twee dogters, Hermien en Emari, en hulle gesinne woon ook hier) op die gras en in die swembad gespeel het.
Soos ek van een opstal – of homestead soos hulle dit hier noem – na die volgende gegaan en meer mense ontmoet het, het ek mettertyd besef dat dié mense ’n unieke bestaan voer. As saaiboere werk hulle hard, maar die omstandighede waaronder hulle lewe, is totaal anders as dié van ’n saaiboer in Suid-Afrika. Jong kinders kry tuisonderrig; die hoërskoolkinders is gewoonlik op koshuis in Suid-Afrika. Die naaste dorp vir inkopies is Kasane, 110 km noordwaarts. Hier is nie ’n dokter – of haarkapper! – op Panda nie.
Maar tog sal geen inwoner hierdie plek vir ’n ander verruil nie. Hier lewe jy na aan die natuur – ek het saam met Tracey Mulder, eienaar van Wildtrack Safaris Eco Lodge, en van haar familie een middag gaan draai by die geheime local wildkykplek, Gary’s Pan. Hier het olifante nadergedrentel om te kom suip terwyl ons hulle rustig uit ons kampstoele dophou.
Pandamatenga is ’n plek waar jy ’n hegte familieband met jou kinders kan behou, want hier lewe families sáám eerder as verby mekaar.