DIS middernag, 10 September, in die slapende Libiese hawestad Derna. Skielik word die stilte wreed versteur deur iets wat “soos ’n reeks ontploffings” klink.
Baie mense besef dadelik daar’s groot fout, maar selfs in hul ergste nagmerries sou hulle nie die ongenaakbare werklikheid kon voorsien nie. Want in dié woestynland – wat nie eens sy eie permanente riviere het nie – storm ’n muur van water nou teen die berg af na die see toe.
Ruba Hatem Yassine, haar swanger suster en sewe ouer familielede klim op ’n buurman se dak. Om hulle verdwyn hul bure en vriende onder die water, en word met die stroom weggevoer.
“Hulle het geskree: Red ons, red ons! Maar ons kon niks doen