OM HAAR lyk dit soos die eindtyd. Geboue wat in puin gelê is, verwese mense wat nog in skok is, en oral die afgryslike reuk van die dood.
Waar brig. Vimla Moodley van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) tussen die puin in die stad Antakya in Turkye rondloop, voel dit onwerklik.
Dis ’n week sedert ’n aardbewing meer as 31000 lewens in Turkye en nog 4500 in sy buurland Sirië geëis het – meestal mense wat vergruis is toe huise en woonstelblokke in duie gestort het. Vimla is in die land saam met lede van die SAPD se honde-eenheid om met die soek-en-reddingspogings te help.
“Ons sien totale verwoesting wat ek nog net in flieks gesien het. Ek het nooit gedink ek sal so iets met my eie oë sien nie. Die geboue wat op die grond lê, is groot geboue van sewe, agt, tien en twaalf verdiepings,” sê sy aan Huisgenoot.
“Mense wat familielede verloor het en slagoffers dwaal in die strate rond met ’n boek of ’n teddiebeer in die hand en lyk heeltemal verlore. Dis hartverskeurend.
“Dié wat oorleef het, maar wie se familielede nog in die geboue is, sit buite in die oopte op reddingswerkers en wag om liggame te onttrek sodat hulle afsluiting kan kry. Dis ontsettend emosioneel, maar as polisiebeamptes is ons opgelei vir hierdie soort werk.”
Die plaaslike owerhede het reeds ’n dag of twee tevore aangekondig daar is geen meer hoop om oorlewendes uit die puin te verwyder nie. Nou soek hulle net