kop omlaag swoeg ons teen die helling uit. Ons het skaars vier ure van die sesdagstaptog agter die rug, maar vloek reeds van die stekelrige fynbos, die biesies wat ’n mens se bene gryp en die los klippe wat met elke tree jou enkels laat knak.
CapeNature se fynbosryke Groot-Winterhoek-wildernisgebied is – as deel van die Kaapse Blommeryk – ’n wêrelderfenisgebied. Maar snaaks genoeg lok dit veel minder besoekers as sy noordelike buurman, die Sederbergwildernisgebied. Die rede hiervoor is die beperkte infrastruktuur. Slegs ’n klein deel van dié massiewe bergreservaat het toegangspaaie. En sover dit staproetes betref, sien net die kort afstande van die parkeerterrein af tot by die Protea-en Disapoel, en die oornagroete tot by Die Hel (een van die Wes-Kaap se mooiste rotspoele!) met sy nabygeleë staphutte gereeld voete.
Maar dit pas my en my man, Matthew, goed. Dis vroeg in die nuwe jaar en ons wil – voordat dinge dol raak – so ver as moontlik van ander mense af wegkom, en vir ’n rukkie die ruwe berge, plantegroei en diertjies van die veld net vir onsself hê. Altans, vir ons en ons vier stapvriende, Torben Wiborg, Elizabeth Wilson, Charles Morrison en Benita Sher – elkeen met ’n behoefte aan stilte en sterre. Daarom is ons op pad Sneeugat toe. Dis ’n grot in die verre suide van die reservaat waar selde mense kom. Maar daar’s baie water; dus die ideale plek vir ’n paar dae se wild kamp en wyd verken.
Die skuinste begin afplat en ek gaan staan om asem te skep. Die Groot-Winterhoek-reeks