Op papier lyk die sending eenvoudig. Stap ’n week lank van oos na wes deur die Kuisebcanyon om te bepaal of dit ’n veilige en “amptelike” staproete kan wees.
Daar was wel al mense in die canyon: Soos Henno Martin en Hermann Korn, twee jong Duitse geoloë wat tydens die Tweede Wêreldoorlog twee jaar lank met hulle hond, Otto, in en om die canyon weggekruip het. Hulle was bang dat die regering hulle sou opsluit. Martin het hulle ontberinge verewig in die boek Vlug in die Namib (die Engelse weergawe is The Sheltering Desert).
Ons ingang tot die canyon lê sowat 140km oos van Walvisbaai naby die C14. Trouens, ’n grot waarin Martin en Korn gebly het, is naby die pad en oop vir die publiek. Die Kuisebrivier loop nie te ver van dié grot af nie deur ’n imposante canyon al die pad tot by Homeb, ’n Topnaar-nedersetting.
Suid van die 160km lange keep lê die enorme rooiduine van die Namib en noord staan loodregte swartgebrande rotskranse… Mensloos, en net bekend aan luiperd, sebra, gemsbok, jakkals, bobbejaan en strandjut.
Onthou, dis ’n recce!
“Ons weet nie hoe ver julle elke dag stap, waar julle uit die canyon klim of waar julle kamp opslaan nie. Dis ’n recce, !” stel Jurgens Schoeman,