Die pad verby Barkly-Oos na Moshoeshoe’s Drift en die dorpie Rhodes was effens problematies, of sommer pleinweg goor. As dit nie vir die hoë berge was nie, kon ek net sowel iewers in Ekwatoriaal-Guinee verdwaal het, of deur die groen weivelde van Nieu-Seeland ploeg kort nadat sikloon Gabrielle daar verby is. Ná die onlangse reën lyk die grondpaadjie vol diep modderwielspore soos iets waarop jy liefs nie jou lewe wil waag nie. My spoggerige Duitse motor se wiele is toegekoek van bergmodder. Allerhande liggies flikker en die kar blaf bevele soos “Change to snow conditions on all alpine inclines!” Ja, ek weet, ek moes seker die handleiding gelees het, maar dis dikker as die Bybel! So bevind ons ons toe in die suidelike Drakensberg, aan’t gly oor ’n modderstorting, sonder dat ons die Bybel óf die Volkswagen Tiguan se handleiding bestudeer het.
Ek jaag steeds die droom na om iewers heen te gaan waar ek al baiekeer vantevore was, in die hoop om nuwe lyne en vorms daar te sien bymekaarkom wat ’n totaal ander ligkwaliteit en atmosfeer skep. In die soeke na spesiale oomblikke sou