My overlander-bronne het vooraf gewaarsku: ’n Amptenaar genaamd Mr Glasses gee mense probleme by die grenspos tussen Kameroen en Gaboen. Hy dring glo daarop aan dat jy die adres van jou bespreekte blyplek in Gaboen gee, en skakel dan die plek om te hoor of dit wel die geval is!
Maar overlanders bespreek nie verblyf vooruit nie, want ons slaap in ons voertuig. Gelukkig was ek voorbereid op dié gesprek toe ek die Ntemrivier – die natuurlike grens tussen die twee lande – oorsteek.
Dis die middel van Meimaand 2019 en hoe nader ek aan die ewenaar kom, hoe meer drukkend raak die humiditeit. Weens die hitte het die grensgebou net ’n lae muurtjie sodat ’n luggie kan deurtrek, met ’n pilaar op elke hoek waarop ’n afdak rus.
Onder die afdak staan ’n ou houtlessenaar in die een hoek en vier mans waarvan drie min of meer ’n uniform dra. Een dra ’n donkerbril – sal hy nou die berugte Mr Glasses wees?
Ek nader die mans met ’n “Bonjour!” en ’n breë glimlag. Hulle groet ewe galant terug. Ek oorhandig my paspoort en knoop ’n geselsie aan. Hulle is geïnteresseerd in die feit dat ek alleen reis en reeds 11 lande deurkruis het.
Net toe ek begin dink dat die grenskruising sonder moeite gaan verloop, kyk die man wat my paspoort deurblaai, skielik vir Mr Glasses en spreek sy besorgdheid oor my gebrek aan akkommodasie uit. Ek hou my asem op, onderdruk die paniek en verduidelik kalm dat my verblyf immers oral saam met my gaan – die Ford Transit-bussie, BlueBelle.
Mr Glasses vra of hulle die bus kan deurkyk en ons stryk aan na BlueBelle. Die landsvlagplakkers van al die plekke waar ek al was, prikkel hulle belangstelling. Ek swaai die deur oop en hulle neem beurte om te loer hoe dit binne-in lyk, knik tevrede, en stap terug na die opelug-grenspos. Is dit dan nou dit, wonder ek? Die manne begin sonder verdere vrae met die nodige papierwerk, oorhandig my paspoort en ek maak my uit die voete. Ek het wraggies die gevreesde Mr Glasses getroef!
‘Die 520 km na Libreville neem my deur die allermooiste reënwoud, maar