“In my volgende lewe,” hoor ek ’n seuntjie sê, “is ek ’n Spitfire.”
“’n Watsegoed?” Dis sy oupa wat vra. Die twee sit by ’n tafeltjie in ’n klein koffiekroegie in die middedorp. Oupa drink cappuccino wat sy gesonde snor ontsier en die knapie sit met pannekoek en melkskommel.
“’n Spitfire, oupa, vliegtuig,” herhaal hy.
“Jy kan nie ’n masjien word nie. Jy moet mos ’n lewende ding wees.”
“Maar oupa sê dan oupa word ’n stuurwiel.”