Hoe verder weg ’n plek van mense af is, hoe banger raak mense om soontoe te gaan. Eenkantplekke soos die Richtersveld word gesien as te rof vir sommige. Dis interessant, want is dit nie juis mense wat vir mekaar die meeste moeilikheid maak nie?
Die Richtersveld is plek-plek half-woestyn, plek-plek woestyn. Mense is skaars, maar eg en vriendelik en – soos die kokerbome hier – bied hulle jou graag koelte. Daar is baie ooptes waar jy kan staan en om jou rondkyk en luister en nie ’n énkele ding sal beweeg of ’n geluid maak nie. Soos toe die aarde net begin draai het.
Dié stiltes is wat die Richtersveld spesiaal maak. Op min ander plekke is jy en die klippe en die enkele ander asems tussen hulle op gelyke voet onder die son. Maar ten spyte van hoe klein jy hier is, is hier niks om te vrees nie. Ek belowe.
Kom, ek gaan wys jou.
GESKIEDENIS
Aan die Suid-Afrikaanse kant is ’n ooreenkoms tussen die Richtersveld-gemeenskap en die Nasionale Parkeraad in 1991 geteken om die gebied as ’n nasionale park te bestuur. In Namibië is die eerste gedeelte van die Ai-Aiswarmwaterbronnatuurreservaat reeds in 1968 geproklameer. Gesprekke oor ’n oorgrenspark het in 2000 begin en in 2003 het pres. Thabo Mbeki en pres. Sam Nujoma die internasionale verdrag vir die |Ai|Ais-Richtersveld-oorgrenspark onderteken.
Die park se bestuursplan sluit die deelname van die plaaslike gemeenskap in sodat die tradisionele leefstyl en kultuur van die Nama-mense hier behoue kan bly. Deel hiervan is die manier waarop Nama-boere met hulle vee agter weiding trek en daarom word hulle steeds toegelaat om die park se veld te gebruik. Getalle