Dis lente in die Bosveld. En in die wildtuin, ’n somerreënvalstreek, is die veld nie vrolik nie. Hier, wes van die Shingwedziruskamp in die noorde van die Kruger, is dit warm, droog en stowwerig.
Ons was vol gesels en grappe terwyl die Land Cruiser ’n uur lank veld-in gery het. Verder en verder weg van die bekende wildkykroetes af. Maar nou staan en bak ons in die September-son. Niemand lyk meer so opgewonde om hulle swaar sakke op hulle rug te sit en te stap nie. Ek is beslis nie die enigste een wat wonder of ek genoeg water het nie.
“Ons het geen idee waar ons weer gaan water kry nie. Soms moet ’n mens verder stap, soms moet ’n mens dieper grou. Ons sal sien,” sê Donovan Terblanche. Hy en Patrick Mkhabela is ons gidse vir die volgende vier dae terwyl ons die droë loop van die Shingwedzirivier volg. Omdat ons in die riviergruis moet delf vir water, word ’n grafie saamgedra. Ook ’n noodhulpsak en ’n klein grondboor.
“Die outjie is vir toiletsake,” verduidelik Donovan die boor se teenwoordigheid.
“En boor maar lekker diep. Ons wil geen tekens van mense in die veld los nie.”
Ek ken net vir Dawid de Wet, wat die stap gereël het. Die ses