Vroeg in die laaste dekade van die vorige millennium bevind ek my in Mbombela. Dit het toe nog Nelspruit geheet en was die tuiste van onder meer ’n sokkerspan genaamd Dangerous Darkies, wat toe nog in die nasionale liga gespeel het. Dit was ook die hoofkwartier van die Kommandement Oos-Transvaal waar ek in daardie stadium diensplig gedoen het. Geografies gesproke was daar net enkele weermagbasisse binne die landsgrense wat verder weg was van my grootwordhuis in die Boland – ook as dit by fauna en flora kom.
Waar ek grootgeword het, was die enigste “wild” wat jy in jou daaglikse handel en wandel sou teëkom, moontlik ’n eekhoring in die hoofstraat of ’n dassie op die berg se voetpaadjies. Om op die Krugerwildtuin se drumpel te wees was dus ’n