Twee Afrikaners en ’n Nederlander vat die pad in ’n huurmotor. Oftewel twee historici en ’n sosioloog. Óf drie wit vroue. Kies maar jou kombinasie. Ek is agter die stuur, effens senuagtig oor die stand van die Oos-Kaapse paaie. ’n Mens hoor mos baie stories. Ek weet wat om te doen met ’n Johannesburgse verkeersknoop, ’n vyfbaansnelweg of die Buccleuch-wisselaar, maar ’n verlate, onbeligte plattelandse pad vol slaggate is ’n ander storie.
Dit is Junie 2023 en ek en my metgeselle is van Gqeberha af onderweg na die Historiese Genootskap van Suid-Afrika (HGSA) se tweejaarlikse konferensie by die Rhodesuniversiteit. Ek was aanvanklik nie baie lus nie, maar my Nederlandse geesgenoot het my oorreed om saam met haar te gaan besin oor ons aandadigheid in die geskiedenis. Ons gaan ’n paneelbespreking aanbied waarin ons ons betrokkenheid by die geskiedenis wat ons skryf, krities onder die loep neem. As Afrikaner is ek onlosmaaklik vervleg met die kompleksiteit van hierdie land en sy verlede. Dieselfde geld vir haar as Nederlander – sy besin oor Nederland se aandeel in kolonialisme en slawerny en dié land se deelname aan Nasionaal-Sosialisme. Ons sosiologiekollega worstel met dieselfde vraagstukke – en oor witwees en vroue wat Afrikanernasionalisme aangehelp het.
Nodeloos om te sê is daar baie om oor te praat, en my grootste uitdaging is om behoorlik op die pad te konsentreer. My vrese was egter ongegrond. Die dag is jonk genoeg en die teer na Grahamstad – oftewel Makhanda – loop seepglad en vinniger as wat ek verwag