As die Italiaanse term mani di fata beteken dat vroue wat vaardige handwerk doen, feetjiehande het, kom ek uit 'n bloedlyn van feetjies. My ma, ouma en hul voorsate kon almal die fynste handwerk doen. Petit pointborduurwerk, Scherenschnitte, kantbreiwerk.
Ek kan my voorstel hoe my Vlaamse en Franse voorouers in die sestiende en sewentiende eeu vir lang ure met tolle gesit en point de Flandres en Chantilly lace gemaak het.
Ongelukkig het hierdie talent my oorgeslaan en met my uiterse gebrek aan fyn motoriese vaardighede sal ek nooit met daardie tientalle tolle 'n stukkie kant kan weef nie. Vir breiwerk sal ek my by 'n dik nommeragt-breipen moet hou.
Ek het nie feetjiehande nie, maar ek bewonder sulke mense.
Toe ek 'n kind was, kon ek my sit en verkyk aan ons buurvrou, Tannie Ben, as sy met haar nommer 19-breipenne en hekelgare kouse met die mooiste fyn patrone brei. Ek dink nie ek het Tannie Ben ooit sonder breiwerk gesien nie, selfs op straat. Met haar breipenne onder elke kieliebak vasgeknyp, wol in die voorskootsak, sou sy al klik-klik-klikkende Elginweg afstap. Haar maer handjies kon die wol blitsig en behendig in ingewikkelde patrone omskep.
Ons het grootgeword met die broers Grimm