DIE son keer Lisa op ’n snikhete dag in die straatjies van Oia vas. Terwyl sy saam met die stroom toeriste beweeg, loop die sweet in straaltjies teen haar rug af.
Dis haar skoolvakansie, en sy vier Peet se wegstap van haar af.
Sy het elke ekstra sent weggesit, wat as onderwyseres nie honderdduisende is nie, om hierdie Griekse vakansie te kon bekostig. Én om vir haar ’n skildery te koop vir die leë kol waar Peet se ultramoderne kontrepsie destyds gehang het. Om die een of ander rede kon sy nog nie iets kry wat sy daar wou hang nie. Sy sal weet wanneer sy die perfekte skildery kry.
Aan haar regterkant lê die see onmoontlik blou, terwyl die son verblindend op die spierwit mure om haar skyn. Onder ’n stoel voor een van die winkeltjies gewaar sy ’n taamlik gehawende kat wat sy een poot lê en lek. Langs hom staan ’n plastiekhouer met water