Weg!

101 Karootreffers

Die Karoo sal jou om elke kiertsregop koppie en stekelrige turksvy verras, want hier is nie net “niks” nie... Weg het ’n paar gesoute Karoo-reisigers gevra waar hulle graag bly, waar hulle vir ’n lekker koppie koffie of plaaslike lekkerny aftrek, op waffer agterpaaie steenbokkies hou en ander interessante dinge om te doen.

Hierdie lywige lys van 101 doendinge sal jou na die hart van die Karoo lei. En teen die tyd wat jy daar doer tussen Rietbron en Aberdeen rondpiekel, sal jy maklik nog 101 dinge by die lys kan voeg. Laat weet ons gerus wat jóú gunstelinge is! Gebruik die kaart op die volgende blad om elke doending op te spoor en jou volgende Karoo-toer mee te beplan. Geniet dit!

NEEM KENNIS

Al die besonderhede – van kos en blyplekpryse tot padtoestande – kan onverwags verander. Kontak altyd eers die eienaars of blyplek om die jongste nuus te kry. Wat selnommers betref: Indien jy nie die persoon in die hande kan kry nie, stuur gerus ’n WhatsApp-boodskap. Die plekke gelys is meestal afgeleë en daar is soms geen selfoonopvangs nie. Tweedens is ’n boodskap op Facebook ook ’n goeie opsie.

LOERIESFONTEIN

1 Fred Turnerwindpompmuseum

Die windpomp is deel van die Karoo-landskap, en by die Fred Turner-museum word dié ikoon gehuldig. Hier staan 30 windpompe wat oor die jare heen op plase in die omtrek diens gedoen het, ook pompe van oorsee! Jy kan maar sê dat hulle hier kom aftree het...

Die museum is genoem na Fred Turner, wat in 1895 die eerste winkel op Loeriesfontein oopgemaak het. Die munisipaliteit het later grond geskenk met die idee dat ’n museum ingerig word – dit het uiteindelik in 1976 geopen. Hier is ’n kerkgeboutjie op die perseel met uitstallings van geskiedkundige foto’s en desjare se klere, gereedskap en kombuisware. Tydens blommeseisoen is Die Skerm oop – in dié tradisionele asbosskerm word koffie, tee en boerekos bedien.

Oop Tydens die blommeseisoen (Aug.-Sept.): Ma.-Sa.: 9 vm.-5 nm; So.: 10.30 vm.-5 nm. Ander maande: Slegs per afspraak, kontak Elna Brand by die nommer hieronder.
 Toegang ’n Skenking
  Adres Lombardstraat
 Kontak 🕽 062 886 4047 (Elna); 🕽 027 662 1525

– Evan Naudé

CALVINIA

2 Calvinia-museum

Het jy al ooit ’n vierbeen-volstruiskuiken gesien? ’n Opgestopte skaap wat in jare nie geskeer is nie? Menshare wat in kettings en blommekranse gevleg is? Of het jy al van die Lombard-vierling gehoor?

Die Calvinia-museum is in wat voorheen die dorp se sinagoge was. Dis een van daai plattelandse museums vol eienaardige interessanthede. Dit vereer die dorp se voormalige Joodse inwoners en Trekboere en is die laaste rusplek van die legendariese Makadas-lokomotief wat wol van Calviniadistrik na die mark in Port Elizabeth vervoer het. (Let wel, dis nie dieselfde Makadas-trein wat tussen Laingsburg en Ladismith geloop het nie.) Die lokomotief het vanaf die 1950’s tot 1977 diens gedoen en toe op Calvinia kom rus.

Toegangstarief R10 vir volwassenes, R5 vir kinders. Skenkings is welkom.
 Oop Ma.-Vry.: 8 vm.-5 nm., op afspraak op Saterdae.
 Adres Kerkstraat 44
 Kontak 🕽 027 341 1043 (Memci van Wyk)

– Julienne du Toit

3 Hantam Huise

Toe Alta en Erwin Coetzee in die laat jare 80 van Gauteng af na Calvinia verhuis het, was hulle meegevoer deur die dorp se ou geboue. Hoewel hulle nog nooit voorheen ’n huis gerestoureer het nie, het hulle die taak met oorgawe aangepak. Dit was moeilik, maar hulle het dit deurgesien en waar hulle kon, die oorspronklike materiaal gebruik. Hulle het populierhout ingespan en selfs ou spykers uit gesloopte huise gered. Hulle het vloere uit klei, strooi en perdemis gemaak.

Die egpaar het altesame amper ’n dosyn huise gerestoureer en die meeste daarvan is beskikbaar as blyplek – die Hantam Huise. Dit kos ongeveer R1 000 p.p. wat deel; gaan na die webwerf vir nadere pryse.

Hier is ook die Hantam Huis Restaurant, wat in 1853 gebou is. Kom sit aan vir ’n lamspastei (sowat R55). Die restaurant is oop vir ontbyt (wat baiekeer ’n skilpadjie insluit) en middagete. Oornaggaste kan uitsien na propperse plaaskos vir aandete: lamskerrie, waterblommetjiebredie of bobotie met groente en rys kos ongeveer R200 per ete.

Oop Hantam Huis Restaurant: Weekdae van 7 vm.-4.30 nm. en Sa.: 7.30 vm.-1 nm.
 Adres Hoopstraat 42-44, Calvinia
 Kontak 🕽 082 720 1812; 🖰 calvinia.co.za

– Julienne du Toit

BRANDVLEI

4 Die Windpomp Restaurant

Sodra jy van die N-paaie afklim en met die kleiner roetes die Karoo se ooptes invaar, verdwyn die bekende kitskosrestaurante soos mis voor die son. Gelukkig is daar nog eetplekke soos Die Windpomp Restaurant op Brandvlei. Die Windpomp-burger (R110 met tjips) lê jou hele bord vol en dié outjie se pattie is suiwer skaapvleis. Hier is ook onder meer ontbyt, pizza en skaapstertjies op die spyskaart.

Oop Elke dag van 8 vm.-8 nm.; Sondae maak hulle 2 nm. toe.
 Waar? Langs die KLK-vulstasie in De Villiersstraat (R27)
 Kontak 🕽 063 857 0827; “Die Windpomp Restaurant Brandvlei” op Facebook

– Evan Naudé

WILLISTON

5 Williston Mall

Die Williston Mall is die geesteskind van die kunstenaars Pieter en Elmarie Naudé wie in 2004 eiendom op die dorp gekoop het en later byna ’n ganse straatblok besit het. Dekades gelede was die meeste van die blok deel van ’n meisieskoshuis genaamd Die Ark. Dit staan nou bekend as Die Ark-gastehuis, en van die slaapplekke is genoem na die slaapkamers van vorige inwoners van die koshuis, soos Slopie se Kooi en Lyfie se Katel. Dit kos vanaf R450 p.p. wat deel, en ontbyt is R100 ekstra.

Die Williston Mall sluit die gastehuis in, asook Die Woelpoel (’n plonspoel), ’n kunsateljee, die Doppies-kroeg (net vir oornaggaste), ’n eksentrieke museum en winkel wat van appelkooskonfyt tot gebreide “Willie Warmers” verkoop... niemand wil verklap wie die plaaslike ouma is wat die breiwerk doen nie.

Toegangstarief R20 vir volwassenes, R10 vir kinders (met ’n koppie koffie vir grootmense). Bespreek vooraf.
 Adres Hodgsonstraat 1-3
 Kontak 🕽 072 018 7288; 🖰 willistonmall.co.za; 🖰 arkgastehuiswilliston@gmail.com

– Julienne du Toit

6 Die Grafsteenroete

Jare gelede het Elsa van Schalkwyk van Williston ’n plaaslike skat ontdek toe ’n besoeker aan haar gastehuis uitgevra het oor die graf van ’n familielid. Toe die graf gevind is, het hulle agtergekom die grafsteen is gemaak deur Cornelius de Waal. Hy was ’n buitengewone man wie se grafstene werklik volkskuns is.

Die grafstene het al meer mense begin interesseer, en nog van die stene is op plase in die omgewing ontdek. Elsa het nou ’n selfbegeleide Grafsteenroete saamgestel wat jou na al die grafstene neem. Jy kan ook vooraf ’n begeleide roete saam met Elsa of Cora Steenkamp van die Williston-museum bespreek. By die museum kan ’n mens ook van De Waal se ou toerusting en sjablone sien. Die begeleide toer sluit ook in besoeke aan plase soos Oest, Koega, Potloer en Brownslaagte waar korbeelhuise gesien kan word.

Koste Selfbegelei: R50p.p. (jy kry ’n pamflet) Begelei: R400 per groep (dis ’n halfdag-uitstappie) Piekniekmandjie: R120 p.p.
 Kontak 🕽 072 074 0912 (Elsa); 🕽 082 463 3927 (Cora)

– Julienne du Toit

7 Karusaf se Karoovleis

Karusaf is ’n slagpale en vleiswinkel op Williston wat skaapvleis uit die distrik verkoop wat aan Karoovleis van Oorsprong-vereistes voldoen. Behalwe dat die skaap in Karooveld (waarin spesifieke bossies moet groei) grootgemaak moet word, mag groeihormone nie gebruik word nie en moet boere aan goeie veemanskap- en dierewelsynbeginsels voldoen – dus weet jy dat jy goeie vleis by Karusaf gaan kry.

Die winkel is oorkant die koöperasie in die hoofstraat, en vleis word ook by die Manna-restaurant verkoop (in dieselfde straat). Karusaf lewer in Kaapstad – gaan kyk op die webwerf hoe dit werk.

Oop Karusaf: Weekdae: 7 vm.-1 nm. en smiddae van 2 nm.-5 nm. Mannarestaurant: Elke dag: 7.30 vm-9 nm. Waar? Reg langs die R63 wat deur Williston loop Kontak 🕽 082 389 6309; 🖰 karusaf.co.za

– Willem van der Berg

8 Langbaken-kaas

Die Sakrivier wat noord verby Williston loop en mettertyd in die Boesmanland wegsyfer, bereik nooit die see nie.... Maar dit bied net genoeg water vir die aanplant van veevoer op Peter en Francy Schoeman se plaas Langbaken. Peter sorg vir die vee en Francy is tans een van Suid-Afrika se voorste kaasmakers en verantwoordelik vir van die lekkerste bloukaas, Karoo Blue, wat jy ooit sal proe.

Jy kan ook smul aan die pikante Karoo Crumble, die matige Karoobossie, en die romerige camembert wat gemaak word van die rou melk van hulle gepamperlangde jerseykoeie.

Die kase is beskikbaar in uitgesoekte deli’s landwyd, maar kontak Francy vir ’n spesiale besoek aan hulle Proestoep.

Waar? Ongeveer 35 km oos van Williston
 Kontak 🕽 082 346 5780; 🖰 langbaken@williston.za.net

– Julienne du Toit

9 Perdekloofsirkelroete

Hierdie sirkelroete lei jou deur ’n mooi gedeelte van die Kareeberg: Ry uit Williston met die R63, rigting Carnarvon. Draai ná 10 km links op ’n grondpad (die bord sê: Van Wyksvlei). Sowat 35 km verder sal jy ’n plaasbordjie met die naam Tuinkloof sien. Hou reguit verby Tuinkloof, en daarna kan jy by elke volgende aansluiting regs draai. Wanneer jy – sowat 20 km van die Tuinkloof-merker – die bord sien wat links wys na Van Wyksvlei, hou regs. Jy ry oor ’n laagwaterbruggie en die plaas Saaipoort lê na regs. Stop hier en bewonder die hoë berg links voor jou. Na aan

You’re reading a preview, subscribe to read more.

More from Weg

Weg6 min read
Wat Klip Ons Vertel
Vir die eerste seevaarders wat om die Kaap gevaar het, was Tafelberg hoofsaaklik ’n baken. Dié strak klipmassa, reeds vir kilometers sigbaar vanaf die oopsee, het bevestig: Die skip is nog op koers – maar niks meer nie. Tóé was daar nog nie sprake va
Weg7 min read
Toe Glad Nie Rustig Nie…
“Julle gaan rustig in Magaliesberg stap? Daai roetes is alles behalwe rustig!” hoor ek by talle mense wat hierdie omgewing goed ken. Een van hulle is my vriendin, Melanie van Zyl. Sy het die boodskap wat haar op ons avontuur saamnooi, effens verkeerd
Weg8 min read
G’n Kortpad Deur Die Langeberg!
Die noodlot het ons van meet af aan getart. Ons eerste poging om die Swellendam-roete te stap het nie verder as die Marlothnatuurreservaat se kantoor gevorder nie. Toe ons die oggend vir die inligtingsessie aanmeld, het Adam Nel, die waarnemende veld

Related