WÊRELDBEKERRUGBY ’23 • FRANKRYK
Ek is nie versot op Parys nie. Glo dit of nie, maar ek swymel nie wanneer ek ’n Instagram-prentjie van ’n fotogeniese croissant met die Eiffeltoring op die agtergrond sien nie. Ek volg nie TV-reekse soos Emily in Paris nie, want dit verander die stad in stroopsoet spookasem. Ek hou van flieks soos Amélie en Ratatouille – jy moet ’n regte suurpruim wees om nie voor die sjarme te swig nie – maar ek weet dis ’n gestileerde kamma-weergawe van Parys.
Nee wat, ek is nie mal oor die Parys wat ek op sosiale media, in soetsappige liefdesverhale en romantiese rolprente sien nie.
Maar ek is liéf vir Parys. Soos jy lief is vir ’n ou vriendin wat jy lank genoeg ken om haar al haar sondes te vergewe, haar pretensie en haar hoogmoed, haar valse fasade en haar skaamtelose flirtasie met elke Amerikaanse toeris.
Ek ken hierdie vriendin al meer as veertig jaar. Ek het nooit in die hart van