Die Oranjerivier bokspring in reuse-golwe in die ravyn af en tuimel 56 m na benede. Die bruin water bots en bruis teen die granietklip en ’n wolk sproeireën hang in die lug. Jy is gou sopnat, maar dis lekker: Die rivier ruik na modder en son op klip en dit bied ’n bietjie lafenis teen die Noord-Kaapse hitte.
’n Reënboog span bo jou kop en witgatwitjies fladder om jou heen. As jy dapper is, staan jy op jou tone en loer versigtig oor die houtreling van die uitkykpunt na die malende poel doer onder. Die rivier druis oorverdowend en verdryf al jou los gedagtes – al waaraan jy kan dink, is water en vloed en wegspoel.
Dís hoe dit lyk (en klink) as die Oranjerivier kom stem dik maak by die Augrabies-waterval- nasionale park sowat 40 km noordwes van Kakamas. Die waterval het nie om dowe neute die naam “Aukoerebis” in Nama gekry nie – dit is inderdaad die plek van groot geraas!
DIE WATERVAL IN VLOED
Skouspel én skade
’n Vloed is ’n rare gebeurtenis in hierdie geweste en sorg altyd vir groot opwinding. In die middel van Februarie 2023 loer ek by die Augrabies-span in om met die parkbestuurder, Angela Isaks, en Christine du Plessis, die beampte vir sosio-ekonomiese transformasie, oor die waterval se groot vloedjare te gesels.
Angela het net voor die Covid-19-pandemie in Januarie 2020 die leisels van die park oorgeneem en Christine en haar man, Nardus, ’n afdelingsveldwagter, werk albei reeds sowat 14 jaar hier.
Wanneer jy praat oor die groot vloede in die Benede-Oranjerivierstreek, is daar