Dit voel asof jy stoksielalleen sweef deur ’n Karoo-landskap waar die laaste mens en dier al eeue gelede tot stof fyngemaal is. Jou rymaats is myle agter, want vanoggend, op ’n gladde gruispad wat kilometers aaneen met lang, egalige draaie daal, kon jy jou fiets vrye teuels gee.
Dis betrokke, met silwergrys wolke wat in die verte al langs die Groot-Winterhoekberg opgestapel is. Koel, maar nie koud nie... net die regte weer vir langpadfietsry – mits die wolke die reën inhou.
Die bouval van ’n ou plaashuis flits verby. Wat het van die mense geword, wonder jy. Hier is nie meer ’n skaap, bees of boerbok te sien nie. Ook nie juis grensdrade nie. Dis net jy en jou gedagtes en die geluid van fietswiele wat suis.
Die pad volg ’n droë sytak van die Grootrivier, waar soetdoring- en kareebome ’n digte groen soom stik te midde van sonverbleikte klippe. > En dan, ’n klipharde krr-aaakk van takke en klippe wat teen mekaar spat! Ek duiwel amper van my fiets af van die skrik. Eers een, toe twee, nee, výf koedoes bars deur die bosse, bons ’n ent voor my oor die pad en laat spaander teen ’n kliprant uit.
Net toe my hartklop bedaar, flits ’n vlakvark byna waansinnig ’n paar meter voor my in en nael al met die pad langs vooruit – soos ’n kolhaas in ’n plaasbakkie