Eens ’n onwelkome “gas” in ’n nasionale park – maar nou is die Tankwa-bok ’n kandidaat om ’n oplossing vir boere in droë dele van Suider-Afrika te bied. Sy vrugbaarheid, goeie moedereienskappe, weerstand teen siektes en parasiete, en vermoë om uiterste temperature die hoof te bied, maak dié inheemse bok ’n geskikte kuddedier waarmee Noord-Kaapse boere in droër streke kan floreer. Sy gehardheid en oorlewingsvermoë kan volgens kenners groter voedselsekerheid meebring, hoewel die vraag na lewende bokke egter nog hoër is as vir bokvleis op winkelrakke.
Landbou-amptenare en ander betrokkenes wil die bok binnekort as ’n landras registreer. Volgens een kenner is dit moontlik “die mees nagevorste inheemse bok waarmee in Suid-Afrika geboer word”.
Jare lange navorsing het bevind dit is ’n geharde kuddedier wat ideaal vir Suider-Afrika se moeilike droër ekologiese toestande is. In sy natuurlike omgewing vergelyk die bok goed met ander aangepaste inheemse boksoorte, soos die Xhosa, Skilder, Kalahari Red en Nguni.
Navorsing oor en belangstelling in die ras het in 2007 opgevlam toe ’n advertensie in ’n plaaslike koerant op Calvinia onder die aandag van mnr. Thinus Jonker, destydse adjunkdirekteur van die Noord-Kaapse departement van landbou, landelike hervorming en ontwikkeling, gekom het. Dit was ’n tender wat Sanparke uitgesit het om die bokke in die Tankwa-Karoo Nasionale Park te verwyder. Jonker het die potensiaal van ’n aangepaste boksoort raakgesien. Die boksoort was duidelik uniek, maar onbekend.
UNIEKE GENEPOEL
Die departement was suksesvol met die tender om die