Grootvadersbosch-natuurreservaat
Kom wys vir jou kinders die wonderwêreld van die onderbos in dié klein woud in die voue van die Langeberg naby die dorp Heidelberg. Hier groei oranje paddastoele soos feetjietrappe teen ’n boomstomp, varings se blaarvingers krul stadig oop, en tussenin groei mostapyte (en die voëlskuiling lyk baie na Raponsie se toring…). Ja, die Grootvadersbosch is ’n magiese plek. Die 2,5km²-woud is die grootste oorblywende stuk afro-gematigde woud in die Langeberg.
Verskeie kort roetes en luspaaie sigsag deur die woud verby stroompies, bome wat omgeval het en ’n staning hemelhoë Kaliforniese rooihoute.
Kry ’n kaart by ontvangs. Jy weet hoe stapfiks jou kinders is; besluit dus vir hoeveel omkopery en smeeksessies jy kans sien… ’n Kombinasie van die Melkhoutpad, Redwoods Road en Stinkhoutsirkel sluit verskeie hoogtepunte in. Klim op die Melkhoutpad wat voor die glanskamptente verbyloop. Pak ’n fles tee en beskuit en stap vroegoggend na die voëlskuiling. Kyk hoe die son opkom oor die Langeberg en die woud se blaredak.
Die pad daal af, oor ’n stroompie en sluit aan by Redwoods Road, draai links op dié pad wat lei tot die Kaliforniese rooihoute. Maar Mamma, wat maak die uitheemse bome hier, vra Miempie dalk… (sien Pretfeite).
Draai ’n ent na dié bome regs en dan weer links op die Stinkhoutsirkel. Die smal paadjie loop deur een van die mooiste dele van die woud. Langs die paadjie het ’n enorme boom oor die kloof geval – avontuurlike kinders (en ouers met goeie knieë) kan hulle balanseervaardighede hier toets. Die paadjie loop verby ’n voëlskuiling.
Dié voëlskuiling is ’n besoek werd, maar bestuur vooraf verwagtinge. Fokus op die koelfaktor van die stellasie wat sowat 9m hoog uit die bosvloer troon. ’n Mens klim met ’n stel leertjies tot bo tussen die blare. Jou kinders moenie bo ’n toneel uit die fliek verwag nie. Woudvoëls is berug vir hulle skuheid. As