’nTranskontinentale reis met ’n tweewielaangedrewe bussie is geen plek vir ’n 60-jarige vrou met niks ervaring van sulke dinge nie. Wel, dis dalk jóú opinie, maar ek glo ’n vrou se plek is waar ook al sy wil wees!
Ek is in Zimbabwe gebore en het in my vroeë twintigs na Suid-Afrika verhuis waar ek van 1981 tot 1997 gewoon het. Daarna is ek saam met my voormalige eggenoot Verenigde Koninkryk toe, en vanweë sy loopbaan het ons later in Portugal en Luxemburg gewoon. Daarna was ek vir 18 maande in Spanje.
Teen die tyd dat ek 58 jaar oud was, het ek ’n hunkering na ’n ander lewe gehad. Die eerste stap was om my ongelukkige huwelik te beëindig, waarna ek sou kon besluit hoe ek nuut wil begin.
Ek was toe reeds 36 jaar weg van die huis af en het Afrika erg gemis. Ek het al vantevore sloertoere deur Noord-Amerika, Europa en Suider-Afrika meegemaak, en besluit: Hoekom ry ek nie terug Zimbabwe toe nie? Ek het geglo dat ek iewers langs die pad die doel van my lewe sal herontdek.
En toe begin ek beplan.
My huis op wiele
Die eerste prioriteit was om ’n geskikte voertuig te vind. Dit moes ’n regterhandstuurwiel hê sodat ek dit ná afloop van die reis na Zimbabwe kon invoer. Vroeg in 2017 koop ek in Engeland ’n blou 1998 Ford Transit-bussie wat as ambulans gebruik is. Hoewel nie ’n 4x4 nie, was die enjin relatief eenvoudig en dus sou enige werktuigkundige dit langs die pad kon herstel. Omdat ek nie altyd die beste gehalte brandstof oral sou kon ingooi nie, was ek dankbaar dat die bus ’n dieselenjin – wat nie so vol fiemies is nie – gehad het. Verder was die grondvryhoogte heel skaflik, en die ruimte binne groot genoeg om in te leef. Ek sou ook – indien ek in die middel van die nag onveilig voel en die pad wil vat – van my slaapplek af by die stuur kon uitkom sonder om die voertuig hoef te verlaat.
Ek het die bussie BlueBelle gedoop, my paar aardse