Toe ek ’n knaap van vyf jaar oud was – en alles en almal vertrou het – het my ouers vir my ’n lammetjie as troeteldier gegee. Ek was oneindig lief vir hom en het my min gesteur aan die effense dowwe uitdrukking in sy oë en die klein kutteltjies wat uitgeskiet is met die reëlmaat van Trump-twiets.
Ons het in ’n huis sonder elektrisiteit gebly, op ’n uitgestrekte landgoed naby Nelspruit, ’n wonderlike plek waar giftige slange floreer, die plaaslike mense ’n giftige weergawe van umqombothi brou, en ouers vir hulle kinders jok oor die raaiselagtige verdwyning van oulike lammers wat ’n ergernis geword het.
Ek wil eerder dink my wollerige maatjie het weggeloop en deel geword van ’n kommune wat hulle beywer vir skaapregte, maar waarskynlik het ek lustig aan hom geëet. Dis maar hoe dit gaan…
ONTMOET MY VRIENDIN Felicity Collen. Sy besit ’n restourasiemaatskappy in Kaapstad en is ’n interessante mengsel van stedelike straatslim en plattelandse gesonde verstand. Felicity het in Kimberley in die Noord-Kaap grootgeword, in ’n familie wat daaraan glo om sélf dinge te doen. Haar pa het vir haar meganiese dinge geleer: Toe sy vyf jaar oud was, het sy geweet watter moersleutels om aan te gee as hy aan sy voertuie werk – en later, toe die Collens op ’n plaas naby Douglas gaan bly, het sy kennis gemaak met die fyn kuns van etiese slagwerk.
Dit is nie so teenstrydig as wat dit dalk klink nie. Toe ek twee jaar gelede vir ’n artikel met haar gesels, het Felicity die beginsel verduidelik: “As ek op die plaas gaan kuier en ’n dier word geskiet,