Tot onlangs is die vellie beskou as ’n skoen wat plaasmense dra. Om die waarheid te sê is dit presies hoe die woordeboek dit beskryf: As ’n “tuisgemaakte skoen, boereskoen (met ’n lae hak)”. Dit was ’n werkesel, niks meer nie.
Anderdag vertel oom Gustav Nortjé* van die Baviaanskloof my dat hulle eerste rugbyspan selfs doeriejare met bobbejaanveltokse uitgedraf het. Dit klink dalk aardig, maar vir pragmatiese boere het dit sin gemaak.
Die manne het duursame skoene gekort wat lekker kon vastrap en pypkan en skepskop, en bobbejane was ’n pestilensie. Dus: Twee vlieë met een klap.
Deesdae is vellies die inding. Dis mode. Iets wat jy tot onlangs net by ’n koöperasie of ’n leerfabriek kon aanskaf, is nou só byderwets, daar’s byna meer handelsmerke as voete in die land: Freestyle, Kalahari Vellies, Sapmok, Plaasmeisie, Bummel,