In die geselskap van bome
Ek het as ’n kaalvoet rabbedoe op ’n plaas in die Laeveld grootgeword en vir my was bome nog altyd meer as net ’n koeltekol. Ons plaashuis het aan die voet van ’n berg aan die buitewyke van Mbombela gestaan. Voor die statige stoep het ’n grasperk groot genoeg vir ’n krieketwedstryd uitgestrek met ’n kapokboom wat perfek gewortel as paaltjies gedien het. Terwyl ek my kolfbeurt afgewag het, sou ek altyd onder dié boom staan, my kop agteroor gooi en my verkyk aan die kolos se pienk blomme.
Daar was ook ’n jakarandaboom met ’n boomhuis waarin ons die namiddae verwyl het. En ’n moerbeiboom op die rand van die eiendom waarvan die bessies ons hande pers gevlek het. Op pad na die visdam het jy by ’n wildevyboom verbygestap. Ons kon ure lank in trekkertjoepe in die sementdam dryf met ’n paar koraalbome wat wagstaan. My hoërskool is na hierdie bome – waarvan daar ook baie op die skoolterrein gegroei het – genoem: die Hoërskool Bergvlam.
Ja, in die Laeveld is ’n mens altyd bewus van elke reus se teenwoordigheid. Kom ek vertel jou van die gebied se boombakens en die mense wat hulle liefderik beskerm.
Gee pad, snelweg!
Die ontslape New York Times-artikelskrywer Hal Borland het eenmaal geskryf: “If you would know strength and patience, welcome the company of trees.” Bome se onwrikbaarheid kan selfs die mees bedeesde mense tot moedigheid aanspoor.
In Oktober en November 2011 het ’n groep aktiviste 10 km buite Mbombela op die N4 na Johannesburg ongeveer twee weke lank om ’n wonderboomvy () wag gestaan. Die boom staan al meer as 200 jaar lank by die ingang tot my tuisdorp wag – ’n eeu langer as wat Mbombela al bestaan! –
You’re reading a preview, subscribe to read more.
Start your free 30 days