FOKUS VEE
Die gevestigde Huntersvlei Sussex-kudde se bloedlyn het hom deur die jare bewys en die vertroue van telers gewen. Diere van dié stoetery word geteel om by hul omgewing aan te pas, pleks van dat die omgewing by hulle aangepas word.
“Ons teel diere om te floreer in die omgewing waarin hulle is. Hier in Afrika is toestande taai,” sê Claire Evans-Anderson, ’n vierdegeslagboer wat in 2020 die boerdery oorgeneem het nadat haar broer, David Evans, besluit het om na Engeland te emigreer.
“Boere wil ’n dier met ’n goeie temperament hê, en in daardie opsig is die Sussex baie makliker om te bestuur vergeleke met ander rasse. Die vroulike diere moet konsekwent wees wat betref geboortegemak, gereelde kalwers, en diere wat nie te veel aandag nodig het nie. Dit gaan oor wat uit die bloedlyn vloei, en dit is voorspelbaarheid en betroubaarheid.
“Omdat die gene al so vas geteel is, weet boere wat hulle gaan kry. Daar is min variasie.”
As ’n mens saam met Claire op die plaas buite Viljoenskroon in die