AAN die einde van die formele vraelyste van byna enige kliniese proefneming is ’n ope vraag: “Naas die antwoorde gegee, het jy enigiets anders opgemerk wat noemenswaardig is?”
Die vraag bly dikwels onbeantwoord. Maar in 1993 op die Walliese dorp Merthyr Tydfil het gewese mynwerkers wat ’n moontlike nuwe middel vir angina en hipertensie getoets het, gevoel hulle moet praat. ’n Man het sy hand opgesteek.
“Ek kry skynbaar baie meer ereksies snags as normaalweg,” het hy met bewonderenswaardige openhartigheid gesê.
Een vir een het die ander geglimlag en gesê: “Ek ook.”
Wat sou gebeur het as daardie eerste man nie gepraat het nie? Dr. David Brown het ’n goeie idee. “Wel, Viagra sou nie uitgevind gewees het nie.”
Die storie van sildenafiel, wat later as onder meer Viagra verkoop is en vernuftig as bloot “die blou pilletjie” bemark is, is een van toeval en vasbeslotenheid – met ’n groot dosis onverwagte bekoring. Baie medisynes kan daarop aanspraak maak dat dit die wêreld verander het, maar 30 jaar nadat dit uitgevind is en 25 jaar nadat dit die eerste keer verkoop is, het min dieselfde kulturele impak gehad as Viagra.
‘EK SAL NOOIT DIE GESIG VAN DIE KLINIESE VERPLEEGSTER VERGEET NIE. SY HET ’N BIETJIE GEBLOOS’
Nog minder word so algemeen gebruik maar so selde openlik bespreek.
Die uitvinding van dié wonderpil vir impotensie was ’n merkwaardig gelukkige ongeluk – nie net vir miljoene mans en hul lewensmaats nie, maar ook vir Pfizer, die maatskappy wat dit geskep het, se winsmarge.