DAAR is ’n beroering toe die nuwe kardiotorakschirurg die teater binnekom.
Opgewonde afwagting – asof almal teenwoordig glo dat hy enige oomblik ’n wonderwerk gaan laat gebeur.
Suster Nicole Green glimlag agter haar masker. Dr. Lategan se reputasie het hom vooruitgeloop. Mense wat al so gelukkig was om saam met hom te werk, gebruik woorde soos “briljant”, “geniaal” en “begaafd” om hom te beskryf. Dr. Brand, die chirurg wie se praktyk hy oorgeneem het, het met groot lof van hom gepraat.
Die arts gaan staan ’n oomblik stil, groet vriendelik en stel homself voor. Hy het vroeër gebel om verskoning te maak dat hy effens laat gaan wees omdat hy op pad werk toe by ’n motorongeluk gehelp het.
Dan is hy oorkant haar, sy oop, bruin oë vriendelik in haar groenes.
Dis Chad!
Dit voel asof sy ophou asemhaal. In haar nek begin ’n blos warm kriewel voor dit soos ’n brander oor haar gesig sprei.