Plaaslewe in die stad
Laasnag het ons ’n paar keer wakker geword oor die geblaf van die buurt se honde. My man het paraat telkemale by die venster uitgeloer, maar niks gewaar wat moontlik gevaar kon wees nie.
Vanoggend toe die son oor die horison kom, sien ons egter die rede daarvoor. Oorkant ons straat lyk dit soos plaas. Beeste lê oral op die sypaadjie. Aan die een kant sal ons plaaskinders dit seker altyd geniet, maar as ’n mens dieper dink, is dit ongehoord dat ’n trop beeste in die stad op jou sypaadjie slaap.
Ek verkies egter om die mooi daarvan te geniet en terug te dink aan my grootwordtyd op die plaas. Ek was altyd bang vir die beeste. Hulle, wie “hulle” ookal is, het altyd gesê jy moenie rooi dra nie. Pa het altyd seker gemaak dat ek nie rooi aan het wanneer ons die dag beeste werk nie. Alhoewel ek maar altyd op ’n afstand gebly het.
Ek onthou die groot horings van die veldbeeste. Wanneer Pa beeste slagplaas toe moes ry, was dit ’n groot storie, want die veldbeeste was wild. Aanvanklik het hy hulle in die kraal by die huis