1 ANAFILAKSE (’N ALLERGIESE REAKSIE)
Anafilaktiese skok is ’n erge teenreaksie wat die hele liggaam affekteer op ’n stof soos sekere kossoorte (grondboontjies), ’n bysteek of medikasie. Anafilakse tree onmiddellik ná blootstelling aan ’n allergeen in. Dis ernstig en betrek die hele liggaam. Dit is vreesaanjaend en vereis dadelik optrede.
Oorsake
■ Kos Grondboontjies is gereeld die sondebok wanneer dit met kinders gebeur. Selfs ’n titseltjie daarvan kan anafilakse by iemand wat allergies is daarvoor, veroorsaak. Ander kossoorte wat ’n allergiese reaksie kan laat opvlam is vis, skulpvis, vrugte en sekere speserye, voedselkleursel en bymiddels.
■ Insekbyte en -steke van bye, perdebye en jellievisse.
■ Medikasie Spesifieke medisyne soos penisillien, verdowingsmiddels en pynstillers.
Tekens en simptome
Die simptome ontwikkel vinnig, dikwels binne sekondes, en kan insluit:
■ Angstigheid.
■ Buikpyn.
■ Abnormale hoë fluitklanke met asemhaling.
■ Ongemak op bors of toe bors.
■ Hoes.
■ Swaar asemhaling.
■ Sukkel om te sluk.
■ Lighoofdigheid en ’n duiselige gevoel.
■ Jeukende uitslag.
■ Toe neus.
■ Naarheid of braking.
■ Hartkloppings.
■ Rooiheid op vel.
■ Onduidelike spraak.
■ Swelling van die gesig, oë en tong.
■ Verlies van bewussyn.
Wat om te doen
■ Ontbied onmiddellik die nooddienste. As jy weet dat jou kind aan ’n lewensgevaarlike reaksie op ’n allergeen ly, het jy waarskynlik adrenalieninspuitings byderhand wat deur jou dokter voorgeskryf is, en volgens haar spesifikasies toegedien moet word.
■ Lê jou kind plat neer of hou hom in jou arms. Indien daar bloeding uit die mond kom, of hy braak, laat hom op sy sy lê. Moet hom niks gee om te eet of drink nie. As daar geen teken van asemhaling is nie, moet jy dadelik met KPR begin. (Sien bl. 24 tot 27.)
■ Sorg steeds dat jou kind noodbehandeling kry, selfs al verbeter die simptome. Jou kind sal in ’n hospitaal opgeneem moet word vir observasie aangesien die simptome moontlik weer kan opduik.
2 KNEUSPLEKKE
Aktiewe kleingoed doen dikwels kneusplekke op as hulle val of hulself stamp soos wat hulle meer beweeglik raak. Hulle het selde behandeling nodig. ’n Koue kompres kan help as die kneusplek meer ernstig is.
Kry mediese hulp as jou kind kla oor uitermatige pyn of nie die geaffekteerde ledemaat kan beweeg nie. Onverklaarbare, ernstige kneusplekke met geen duidelike oorsaak nie, moet ondersoek word.
3 BREUKE & VERSTUITINGS
’n Gebreekte been is seer en het mediese behandeling nodig. Maak só as jy vermoed jou kind het ’n been gebreek:
■ Probeer die breuk stabiliseer deur dit te spalk. Indien jou kind ’n lang been soos ’n dybeen gebreek het, of been deur die vel steek, moet jy die nooddienste ontbied.
■ In die meeste gevalle kan ouers self die beseerde ledemaat spalk en die kind na ’n dokter of noodafdeling vervoer.
■ As jou kind in soveel pyn verkeer dat jy hom of haar kwalik kan skuif, of as jy onseker is oor of dit veilig is om dit te doen, los dit, en skakel liefs die nooddienste.
AMPUTASIE
Geamputeerde vingers en tone word soms met groot sukses weer geheg. Die geheim is om die kind so gou moontlik by ’n hospitaal te kry en die geamputeerde liggaamsdele korrek te versorg.
■ Skakel die nooddienste. Die paramedici het die nodige opleiding om na jou kind om te sien.
■ Plaas ’n skoon doek of steriele verband oor die besering en druk liggies daarop om die bloeding te stuit.
■ Lig, indien moontlik, die beseerde deel bo die kop.
■ Plaas die geamputeerde liggaamsdeel in ’n skoon plastieksak of draai dit toe in kleefplastiek.
■ Draai dit in iets sag en skoon toe soos ’n handdoek, en sit dit in nog ’n plastieksak, gevul met ys.
■ Moenie die geamputeerde