POSBUS 1802, KAAPSTAD 8000; e-pos: lbw@landbou.com
Om minder te maak
WENBRIEF Ek pak kort-kort vir my sibbe ’n pakkie vintage treasures uit my ma se huis. Vir hul “straf”. Omdat hulle my alleen gelos het om al die papierwerk te doen en klein dingetjies op te ruim toe my ma versorgingseenheid toe is. Dan hoef ék dit nie weg te gooi nie, want my hart sal dit nie hou nie.
Hoe gooi ’n mens ’n Landbouweekblad van 1992 weg waarop jou ma hierdie sin geskryf het? “Die laaste boek wat jou pa in die hospitaal gelees het.”
Twee dae later het die non saggies met haar wit gewaad in die kamer ingekom met ’n takkie uit die hospitaal se tuin in haar hande. Ek was 20 jaar oud en iemand het my langs die pad kom oplaai terwyl ek gedraf het. Iemand anders het my koshuis gebel en gesê hulle soek my. Ek het na ’n vriendin se woonstel gehardloop om haar kar te gaan leen.
“He went Home,” het die non gesê, en ’n pienk begoniablommetjie op my pa se bors neergesit. Die was langs die bed.