SY IS deeglik daarvan bewus dat haar en haar man se verhaal meer na fiksie as feite klink. Dis ’n wilde verhaal van spioenasie en internasionale intrige.
Vir Stella is die lewe partykeer ’n genadelose geswoeg. Haar man, Julian Assange, die stigter van WikiLeaks, sit in sy donker sel in ’n tronk in Londen. En sý worstel al vyf jaar lank om hom te bevry.
Neem nou maar vanoggend.
Sy moet ’n trein én ’n bus vat om van haar huis tot by die Belmarsh-tronk, waar Julian aangehou word, te kom. Dit vat haar ’n uur en 15 minute.
Met haar aankoms word haar vingerafdrukke geneem en haar sakke toegesluit. ’n Besoekerspas word aan haar uitgereik en haar afdrukke word weer nagegaan voor sy deur ’n X-straalmasjien gaan.
Sy word aangesê om weer deur die masjien te beweeg omdat sy ’n kappietop dra.
Sy gaan weer deur, word magneties geskandeer vir wapens en deursoek vir dwelms.
Hulle kyk ook in haar mond, agter haar ore en in haar hare. Daarna loop sy oor ’n werf na waar haar getuigskrifte weer nagegaan word en ’n hond aan haar snuif.
Die Assanges ontmoet mekaar in ’n groot saal waar wagte hulle van ’n hoër verdieping af dophou. Sy word een van 40 tafels toegewys – elkeen bevat ’n meeluistertoestel – en daar kan sy en Julian mekaar eindelik omhels, ’n uur of wat gesels en oor die tafel heen hande vashou.
Sy doen dit alles omtrent twee keer per week. Dikwels neem sy hul twee seuns, Gabriel (5) en Max (4), saam. Hulle sit op hul pa se skoot of loop na die speelgebied. Vandag was dit net Stella