WILMA DERKSEN weet wat dit beteken om die openbare gesig van vergifnis te wees. Sy is al geprys én beledig omdat sy haar dogter se moordenaar vergewe het. Sy is deur die media bestempel as die stem van barmhartigheid, én is die afgelope 37 jaar genadeloos in die openbaar bespreek en uitmekaargetrek. Sy moes vrede maak met ’n tragedie wat haar verteer en toe gedefinieer het.
Vir baie maak dit glad nie sin dat Wilma en haar man, Cliff, besluit het om die man wat hul dogter vermoor het te vergewe nie. Mense sukkel veral om te verstaan hoe hulle hierdie besluit kon neem net enkele ure nadat die 13-jarige Candace se lyk op ’n bitterkoue Januariedag in 1985 gevind is, vasgebind en gevries in ’n skuur in Winnipeg, Kanada.
Die soektog na Candace Derksen, wat op pad huis toe was van die skool af, het sewe weke geduur. Al die inwoners van die omgewing het gevoel haar dood raak hulle persoonlik.
Toe ek die Derksens in 2013, byna 30 jaar ná die moord, op ’n besoek aan Kanada ontmoet, was hul storie steeds in baie mense se bewussyn ingeprent, nie die minste nie omdat die man wat aan die misdaad skuldig bevind is juis in daardie tyd teen sy tronkstraf geappelleer het.
Ek is genooi vir ete aan die Derksens se kombuistafel saam met ’n paar van hul oudste vriende wat – nes hulle – aktiewe lede van die Mennoniete Kerk was. Dié kerk is ’n Christelike groep vernoem na Menno Simons van Nederland, ’n invloedryke Anabaptistekerkleier.
Wilma het my agterna in hul voorkamer ingeneem, en hier, tussen haar boeke en familiefoto’s, het sy verduidelik hoekom die egpaar gekies het om hul dogter se moordenaar te vergewe.