DIS nog skaars sesuur toe Matshediso Sesing (56) in haar bed op die Vrystaatse dorpie Jagersfontein wakker skrik. Sy het ’n vreemde dreungeluid gehoor. Dalk ’n vragmotor? Maar so vroeg op ’n Sondagoggend …
Sy trek haar japon aan en gaan kyk, maar buite in die netjiese ou mynwerkersbuurt Charlesville is daar niks om te sien nie. Dalk het sy gedroom. Maar dan hoor sy dit weer.
“Hoor jy dit?” vra haar ma, Makgotso Sesing (77). Die jonger vrou antwoord: “Ja, ek hoor, maar ek weet nie wat dit is nie.”
Matshediso gaan weer buitentoe en dan sien sy dit: ’n Waterstroom, blinkgrys in die oggendson, vloei af in die laagliggende vleigebied wat Charlesville met sy baksteenhuisies van die informele nedersetting Itumeleng skei. Sy weet waar dit vandaan kom nog voor sy na die damwal so 300 m weg opkyk.
“Iets is verkeerd met die myn, Ma!” roep sy uit.
Die ouer vrou sukkel dadelik op haar kruk deur toe, want die gemeenskap kla lankal oor die gevaar van die diamantmyn se slikdam vol afvalwater so naby aan hul huise. En kyk