Tussen Botrivier en Caledon in die Overberg is dit net ’n handvol motors wat die groot pyl op die versierde skeepvraghouer volg en van die besige N2 af op die R406 wegswenk Greyton toe. Dan, skaars 5 km voor jy dié gewilde oase vir stiltesoekende stadsmense binnery, pryk ’n ánder bord soos ’n spierwit monument: “Welkom – Genadendal, historiese dorp.”
Eeue se geskiedenis lê vasgevang in Suid-Afrika se oudste sendingdorp. Genadendal is in 1738 gestig deur die Duitser Georg Schmidt, ’n sendeling van die Morawiese Kerk wat die evangelie onder die Khoi-mense van die Kaapkolonie wou verkondig. Byna 300 jaar nadat die sendelinge te perd hier aangekom het, is dit steeds nie moeilik om jou hierdie prentjie voor te stel nie, want baie Genadendallers – of Genalers, soos die inwoners ook na hulleself verwys – reis vandag nog te perd.
Vroeër was die dorpie bekend as Baviaanskloof, en kort voor die negentiende eeu was dit naas Kaapstad sowaar die grootste nedersetting in die Kaapkolonie. Boonop het die dorp – wat eers in 1806 tot Genadendal herdoop is deur die destydse Kaapse goewerneur, Jan Willem Janssens – ’n groot bydrae gelewer tot Suid-Afrika se onderwysstelsel. In 1838 is ’n opleidingskollege hier geopen waar onderwysers vir die eerste keer formeel opgelei is.
VANDAG WENTEL die meeste aktiwiteite op Genadendal – veral dié van toeriste – om die dorp se Morawiese kerkplein en die