My een ouma het nooit deur ’n tuin gestap sonder ’n groot handsak nie… sy was nét te bang sy loop dalk ’n plant raak waarvan sy ’n stukkie wil huis toe neem. Toevallig het sy ook geglo slegs gegapste steggies sal groei, iets waarmee ek nie heeltemal saamstem nie.
Van my vroegste kindertyd se onthou is hoe ek saam met my ouma deur haar tuin stap, en blykbaar kon ek “Bellis perennis” uitspreek nog voor ek my tong om ’n stokkielekker kon kry. Ek kan steeds nie verby ’n Bellis perennis stap sonder om aan my ouma te dink nie.
By elke plant in haar tuin sou sy eers stilstaan en vertel by wie sy dit gekry het, en soms sommer ook die familie uitlê én die plek beskryf van waar dit kom. Baie van die skenkers was al lank oorlye, maar het deur hulle plante in haar tuin voortgeleef.
My ander ouma het weer ’n hele kwekery vol steggies gehad wat nog aan die groei moes kom, en daarvoor het sy allerhande prakseersels en boererate ingespan. Ek onthou byvoorbeeld goed hoe die katjiepieringsteggies áltyd onder ’n canfruit-bottel gehou is, terwyl ons vandag sommer plastieksakkies gebruik om ’n gunstige mikroklimaat te skep.
Die steggies wat makliker groei, is in flesse vol water staangemaak sodat ’n mens kon sien wanneer dit begin wortels vorm, terwyl vetplantblare op koerantpapier uitgepak is om wortelklossies te maak voordat hulle kon tuin toe gaan.
Ek verkies steeds my ouma se glasfles. My ouers het dié tradisie voortgesit, en ek wil dit ook graag aan my kinders en kleinkinders oordra. Ek is bevrees vandag is ék die een wat altyd met ’n groot handsak en ’n snoeiskêr gewapen is, maar, anders as my ouma, is ek nie