As kind was my grootste ambisie om ’n dinosourusfossiel in ons tuin te ontdek. ’n Ambisie wat summier geblus is ná my katastrofiese deurbraak-ontdekking – daar was ’n halsband met ’n naamplaatjie (“WOLLIE”, gevolg deur ons huistelefoonnommer) om daai baba-T-Rex se nek.
My tweede grootste ambisie was om in te pas. Ek wou soos al die ander kinders wees, asseblief. Glo my, in ’n skool waar die prys vir akademie ’n skaap en ’n geraamde foto van Loftus Versfeld is, is “kunstige weirdo” nie juis hoog op die voedselketting nie. Terwyl die ander kinders hulle aan hul pligte gewy het, insluitend