Dis skuins ná sonop by die Molose-watergat. Dis Maartmaand, maar die oggend is reeds koel. Dit laat die veld vars ruik en al wat leef, rittel. In die verte roep ’n jakkals en onder die witvlerkkorhane het ’n rusie oor grondgebied uitgebreek. Uit ons Fortuner sien ek en my vrou, Venessa, hoe vyf groot skaduwees uit die bosse losskeur. Olifante! Maar wag ’n bietjie… ons is dan in die Kalahari? Ek en Venessa het Khutse die eerste keer in die vroeë 1990’s besoek toe ons verhouding nog jonk was. My ouers het gereeld gekamp, maar vir haar was dit nuut. My pa was lief vir visvang en dié stokperdjie het ons op menige plek laat kamp opslaan. Ek was nie juis ’n kranige hengelaar nie, maar wel mal daaroor om in die veld te wees. Ek het besluit dat Khutse die beste plek is om Venessa aan kamp en die buitelewe bekend te stel. Want, het ek gereken, daarna sal sy óf gaande wees daaroor óf dit verpes.
Ons het al die basiese toerusting gehad wat nodig was: ’n ou Mitsubishi Pajero met ’n dubbelbatterystelsel en ’n yskas, ’n daktent, ’n opslaantoilet (een van Venessa se voorvereistes) en genoeg kos, water en hout.
Khutse was “net” 570 km se ry van Johannesburg af en ’n goeie voorsmakie van die afsondering wat ’n mens in die groter Sentraal-Kalahari-wildreservaat ervaar. (Daar is geen grensdraad tussen Khutse en dié aangrensende mega-park nie.) Maar ek het my misgis met hoe lank dié afstand ons sou