’NSPESIFIEKE deel van die park is gewoonlik soggens ná nege stil. Tussen sewe en nege, of dit nou reën of sneeu, warm of koud is, is die grondpaadjie tussen die gholfbaan se 10de gaatjie en die perdestalle ’n kakofonie van blaffende honde, stemme en fietsklokkies.
Ná ’n kilometer se stap het Dalene nog nie ’n enkele mens teëgekom nie, en verlig draai sy van die paadjie af.
Haar swart hare steek onder ’n wolmus uit en sy dra ’n donkerbril. Die grond is modderig ná die vorige week se swaar reën, en sy is bly sy het haar Hunter-knielengtestewels aan.
Sy stut haar teen ’n boomstomp voor sy deur ’n opening in die draad klim.
Verbeel sy haar of hoor sy mense wat agter die braambos baklei? Hierdie deel van die park is dan altyd so verlate.
Sy kyk verward op haar horlosie. Het sy in haar angstigheid die tyd misgis?