In 1988 vlieg ek met drome in my oë na Duitsland. Ek wil kwansuis die wêreld sien en au pair wees vir ’n sewejarige en sy dertien maande oue sussie.
“Moet nie die Meisie van Avignon verwag nie,” maan my ma. (Destyds was die gewilde oorgeklankte Franse TV-reeks, met Angelique, die kinderoppasser van die skattige Sebastian, op my radar.)
Dit wás uitdagend. Doeke omruil, om klavier te oefen saam met ’n woelwater. Om ’n reuse-hond in die donker winteroggendkoue op plaaspaaie vir sy ablusies te neem. Wavragte was- en strykgoed, kos maak en huis poets. My Duitse huismense was welgesteld, puntenerig en het op die platteland, betreklik ver van