HY BESKOU homself nie as “die een of ander held nie”, al het sy naam dan nou sinoniem geword met die Springbokke se Wêreldbekerglorie.
Nee wat, hy is nie “hierdie grootbek, windgat ou nie’’, verklaar Rassie Erasmus waar hy vandag nie soseer oor die Bokke praat nie, maar eerder oor homself.
Dis nie iets wat hy aldag doen nie. Gewoonlik praat hy net rugbysake; nie persoonlike stories nie. Sy privaat lewe is ’n toe boek – al dra hy dan nou ook sy hart op sy mou oor die dinge wat op die rugbyveld gebeur, en soms tot groot konsternasie.
Mense dink hulle ken hom, skryf Rassie (50) in sy nuwe outobiografie, Rassie: Stories oor rugby en die lewe.
Maar eintlik verpes hy onderhoude, erken hy. “Wanneer ek op nuuskonferensies praat, is ek senuweeagtig en ver buite my gemaksone. Natuurlik is ek nou al gewoond daaraan, en ek probeer dit met ’n glimlag doen, maar dit beteken nie die situasie is makliker om te hanteer nie,” vertel hy in sy boek.
Nou erken hy ook: “Ek het die media as ’n euwel beskou toe ek begin afrig het. Wat doen hulle hier? Maar toe kom ek agter: Hoe moet die mense weet wat in die span aangaan as hulle die span net elke Saterdag vir 80 minute sien speel?”
Dis dié dat hy dit nou maar vandag doen – om lesers, die aanhangers, ’n kyk op die gebeure agter die skerms te gee. En ja, om sy boek te bemark.
Maar hy’s besig, besig, besig – so besig