Wanneer het die gogga jou gebyt? Ek is nog van altyd af op my gelukkigste wanneer ek in die berge stap en het al menige plaaslike roete voltooi en ook Kilimandjaro uitgeklim. (Sien Stapgids 2020 – Red.)
In 2015 begin ek ’n Amerikaanse YouTuber Jessica Mills (bekend as “Dixie”) op haar kanaal Homemade Wanderlust volg wat die Appalachiese roete aan die ooste van die VSA stap. Ek kon nie glo dat daar so ‘n lang roete bestaan nie!
Ek het begin navorsing doen oor sulke roetes en ’n soortgelyke een deur die bergreekse aan die Stille Oseaan-kant van die VSA, die Pacific Crest Trail (PCT), het my aangegryp. Die fliek Wild (gebaseer op Cheryl Strayed se staptog) en die filmmaker Elina Osborne se dokumentêre reeks It is the People het die saadjie wat toe reeds in my kop geplant was, báie vinnig laat opskiet! En toe’s daar geen keer nie – ek wou sien of my lyf en gees die uitdagings van ’n vyf maande lange stap sou kon hanteer.
Wat maak die roete so gewild? Die variasie. Daar’s woestyne, berge, woude, mere, sneeu… En stappers word elke dag met ongelooflike uitsigte bederf. Die roete strek oor die deelstate Kalifornië, Oregon en Washington, en volg meestal bewaringsgebiede. Jy stap deur niks minder nie as 7 nasionale parke en 26 nasionale woude! Afgesien van die natuurskoon is die leefstyl en stapgemeenskap ook ’n eiesoortige belewenis.
Hoe het jou aanloop tot die PCT gelyk? Ek het reeds twee jaar voor die tyd begin oplees en navorsing doen en vir Janneman Vlok, ’n Suid-Afrikaner wat ook die PCT wou stap, via Instagram ontmoet. Ons het besluit om dit saam aan te pak en die belangrikste prioriteite was fiksheid, permitte en toerusting. Danksy gereelde staptogte en sokker is ek redelik fiks, maar het wel die voorafgaande Desember byna daagliks sowat 10 km in die Magaliesberg gaan stap.
As jy beoog