Smôrens klokslag, amper soos ’n hen wat pas ’n eier gelê het, pik-pik-pikêêêk! Suzanne Smit vrolik op Facebook of Instagram oor die vars besending hoenderpasteie of melkterte wat pas by The Country Chic op Riebeek-Kasteel afgelewer is, alles spesiaal vir die winkel gebak van haar eie vryloopvleis en -eiers. Op ander dae besing sy dalk die lof van die vye of amandels of rou heuning van haar man, Jacobus Truter, “die eintlike boer”. Of die bosse blomme of bottels jerseymelk vars uit die speen.
Die bekkige, oorborrelende baas wat byna nooit sonder ’n glimlag op haar gesig is nie, is ook nie skaam om aanlyn te spog dis die heel lekkerste dit of dat wat by The Country Chic verkoop word nie; só seker is sy van haar saak en smaak dat ongelowige Thomasse altyd genooi word om self te proe. En sy doen dit meestal in ’n eiesoortige krom Engels waarvoor sy nou al amper beroemd is.
Skaars vyf minute nadat ’n mens Suzanne in die vlees ontmoet het, verstaan jy waarom sy in ’n ommesientjie vir haar ’n nisnes in die mededingende hoendermark geskop het. Dis asof sy en hoenders mekaar gevind het. Eintlik laat sy jou in vele opsigte aan ’n vryloophoenderhen dink: sy is moederlik, maar ook nuuskierig, snaaks en immer aan die skrop na geleenthede… en, erken dié voormalige atleet self, met vier kinders tussen 1 en 16, ’n boerdery en twee winkels hardloop sy die meeste dae soos ’n afkophoender rond.
“Maar ek’s gelukkig ’nmy energie van besig wees… en terselfdertyd skakel ek eintlik af hoe besiger dit raak!” (Hierdie “CDO” is veral duidelik wanneer Suzanne later die vyf groot vrieskaste oopslaan waarin sy haar “agt verskillende lyne” hoenderprodukte berg – in iedereen lyk dit kompleet soos ’n haaksgerangskikte biblioteek.)