Dit is halfses die oggend wanneer ek uit Johannesburg ry en wes mik Groot-Marico toe, 210km weg in Noordwes. Naby Broederstroom kry jy die grens tussen Gauteng en Noordwes, en dan is dit Hartbeespoort en die damwal voor die N4 jou deur mynwêreld vat. Net duskant Rustenburg verruil jy die mynbou vir droë bosveld en vars lug.
Ek is op pad om vir Beatrice en Daan van der Merwe te ontmoet by Wilde-Als, die Marico-biosfeerreservaat se besoekersentrum. Daan was ’n soldaat en Beatrice ’n maatskaplike werker, en vandag hou die biosfeer-projek hulle besig.
“In 2016 is die gebied tot ’n bewarea verklaar, wat ons in staat gestel het om in 2017 by Unesco aansoek te doen om dit tot ons tiende biosfeerreservaat te laat verklaar. Die totale oppervlakte is 447268ha, waarvan net die Molemane-natuurreservaat van 5 000ha staatsgrond is. Die res is privaat – dit maak dié biosfeer uniek,” sê Daan. “Die hoofrede waarom dié ’n biosfeerreservaat is, is die water. Dit is die enigste plek in Suid-Afrika waar die Limpopo-, Vaalen Oranjerivier ’n waterskeiding deel, iets wat uit ’n bewaringsoogpunt belangrik is – as jy dit kan beheer, kan jy die kwaliteit én kwantiteit van die water beheer.”
Daan en Beatrice vat ons vandag na die Rietspruit-natuurreservaat toe waar die Rietspruit, Bokkraal se loop en Ribbokfontein se loop aansluit by Kaaloog se loop, wat by die Marico-oog ontspring. Die biosfeer strek oor ’nmassiewe waterdraer, met ’n hele aantal oë wat in die gebied ontspring. “In die Maricooog het duikers al tot 45m diep geduik, en dit gee 700000ℓ water per uur – jy kan jy ’n standaard- open-bare swembad binne 26 sekondes volmaak,” spog Daan.
Nog ’n Daan, Daan Buys van die departement van omgewingsake, kom saam op die uitstappie om strikkameras in die reservaat op te stel. Hy monitor groot soogdiere, waaronder die koedoes, bosbokke, klipspringers, tierboskatte, rooikatte, erdwolwe en bruinhiënas wat hier gesien word.
Hier in die besoekersentrum in die hoofstraat hoor ’nmens hoe die bosveldvisvanger tjirr-tjirrrrrr in die strate. Livingstone, die Van der Merwes se tamaai rifrug, staan nader vir ’n kopkrap. “Livingstone kom ook saam – as ons die luiperd in die reservaat teëkom, dan moet hy vir ons negotiate,” glimlag Daan.
“Ten spyte daarvan dat hier sedert 1837 al mense op plase bly, is die gebied baie ongerep danksy die geografie.