Wanneer ek uit die kar se kokon van warmte klim om ’n foto te neem van die grondpad wat bergaf tot op Matatiele kronkel, vang die ysigheid my onkant. Jy sien nie ’n spikkel sneeu, ’n poeletjie ys of ’n enkele wolk in die lug nie, maar die koue laat jou ore pyn en jou vingers krom trek.
Ek klim weer agter die stuur in en ry verder bergop na die Qachasnek-grenspos. In ’n stadium is die pad só steil jy sien net blou lug bo die Mahindra se neus. “Dit voel amper asof ons in die lug in ry!” sê my verloofde, Sam. “Lesotho staan juis bekend as ‘the Kingdom in the Sky!’” sê ek laggend.
Daar was ’n tyd dat jy in die wintermaande Lesotho net in ’n 4x4 behoorlik kon verken, maar danksy ’n goeie teerpadnetwerk kan jy nou al die land se hoogtepunte in jou dorpskar bereik.
Van Qachasnek af kan jy ’n 192 m hoë waterval, die Katsedam, dinosourusvoetspore, ’n nasionale park, ’n ski-oord en ’n string hemelhoë bergpasse binne ’n week besoek. En as jou tysberekening reg is, bou jy ’n sneeuman ook!
Langs die Senqu
Dis grondpad tussen Matatiele en die Qachasnek-grenspos, maar heelpad teerpad met die A4 en A5 anderkant die grens tot op Semonkong. Jy kry gou bewondering vir die ingenieurs van dié paaie, want die teer kronkel heen en weer teen berghange af tot in diep valleie voordat dit weer teen die steiltes aan die ander kant uitklouter.
Jy leer ook gou dat jy veel stadiger reis in Lesotho as in Suid-Afrika, want reguit paaie of gelyke oppervlakke is skaars. Hier is die berge só hoog hulle skaaf aan die wolke se pense en die paaie stoei teen dié steiltes