AS SJAMPANJE ’n vrou was, was dit sy. Altyd borrelend, sprankelend, goeie geselskap en tuis voor enige kamera. Op haar beste, elke keer.
Maar geen werkende ma se spreekwoordelike glas is altyd vol nie. Haar tenk ook nie.
En mooie Minki voel ook maar soms nes die res van ons.
’n Bietjie oorweldig, effens gedaan en ietwat verskeur tussen die verantwoordelikhede wat gelyk in dié en daardie rigting beur. Dankbaar vir ’n bevoorregte lewe, maar ook net mens en soms ’n bietjie gebuk onder druk.
Ja, erken sy vandag met ’n kyk in haar oë wat enige vrou herken. “Ek is moeg.”
Nee, nie uitgebrand nie, sê sy. Maar sy hét haar hande vol.