Solitaire is ’n klein dog belangrike plekkie: As jy hier met ’n pap band inhink, sal Patat Katamelo en sy span die probleem vir jou oplos. Tenk leeg? Johannes Swartbooi sal volmaak, met ’n glimlag. Lanklaas ’n ordentlike koffie gedrink? Nico Mangudu sal een maak wat jou oë weer ’n bietjie sal ooprek. Honger? In Café van der Lee kan jy weglê aan ’n stuk van hulle beroemde apfelstrudel net sooss die bobaasbakker wyle Moose McGregor dit altyd gemaak het.
Die meeste besoekers aan Namibië ken Solitaire, want jy móét hier aandoen wanneer jy die lang woestynpad uit Walvisbaai vat Sesriem toe. Op ’n manier is Solitaire ’n bietjie soos Doha se internasionale lughawe: Mense kom en gaan gedurig, met vliegtuie (goed, karre...) wat pal ’n stofstreep trek op die C14, dan stadiger ry en indraai. Insittendes klim uit met stywe bene, strek ’n bietjie, en kyk dan om hulle rond asof hulle pas op die maan geland het en nou onverwags ’n beroering hier aantref.
Dis ’n goeie plan om ’n uur of twee op Solitaire deur te bring. Dit is lekker om na al die mense en hulle karre te sit en kyk. En dis jou laaste kans om proviand soos vleis, bier en hout aan te skaf, want oor die volgende paar dae gaan ons roete jou met die agterpaaie langs lei.
Hierdie roete is ’n goeie een as jy pas al jou kyke rondom Sesriem gekyk het – op plekke soos Sossusvlei – en nou verder noord wil mik sonder om die “breë weg” Walvisbaai en Swakopmond toe te vat. Ons roete neem jou van Solitaire af deur ’n deel van die Namib-Naukluft- nasionale park tot by die gasteplaas Donkerhuk-Wes, en daarvandaan na die dorpie Karibib.
Dan kan jy kies of jy links of regs om die Erongoberg wil ry tot by jou