DIS laatnag toe ’n kar voor die verlate vulstasie langs die grondpad in die middel van nêrens intrek. Die gebied is helder verlig. Op die stoep voor die winkel en teekamer sit ’n vrou en wag met ’n sigaret in die mond. Sy dra ’n ligte geel somerrok. Dit lyk nie of die koue haar skeel nie.
Die vulstasie is verwaarloos. Die petrolpomp is geroes en die gebou se verf dop af. Rondom die gebou en die plaveisel groei die gras en onkruid welig.
Die kar stop en die bestuurder klim uit. Toe hy die ou vrou sien wat moeisaam opstaan en nader stap, sê hy: “Dankie tog, ek het nie gedink die plek sou oop wees nie.” Sy antwoord nie, staan net na hom en kyk.
“Sê asseblief vir my hier is petrol,” sê Barend Pieterse. “Ek het vergeet om op Jakkalsvlakte in te gooi. Nie geweet die volgende dorp is so ver nie.”
Sy lyk verveeld. “Hoeveel?”
Barend kyk na die pomp.