Die vrou van vroeg in die dertig murmureer steen en been op Facebook: Sy’s nou waarlik keelvol – nee, skoon náár – vir en van die lockdown, maar nóg meer vir die alewige ge-ouma-Soufse-wonderwildspastei, tant Alie-se-roly-poly-met-die-twist-wat-my-herinneraan-die-dag-toe-Snuifie-die-hanslammy-omgestamp-het of oom Jaap-sesuurvoete-soetsuurdeegbrood waaroor die res van Planeet Facebook dag in en dag uit halleluja om van die bose inperking te ontsnap.
Moet elke verdomde troos-of koesterkosresep aljimmers deurweek wees van die bittersoet nostalgie, brul die vrou (en kry 3 likes). Kan ’n mens regtig nie meer ’n enkele ding oor jou lippe sit sonder om met klam ogies te beginne verlang na ’n tyd toe alles soveel rooskleuriger gelyk het nie? (2 likes)
Hierdie nostalgie skep net onrealistiese verwagtinge, kerm sy verder, en, erger nog, dit skilder ’n onjuiste prentjie van die verlede. Is daar regtig g’n ander salf aan hierdie siek, bittersoet emosie te smeer nie? (Vir dié blaf word sy met ’n enkele tjankgevreetjie beloon.)
By die Stasiestraat-kombuis se vrolikgedekte langtafel knik-knik-knik Mynhardt Joubert sy kop met elke aanhaling wat jy voorlees en sluk dit dan weg met ’n glas yskoue water.
In The New York Times van ’n paar jaar gelede haal John Tierney verskeie slim mense aan wat sê die hoofrede waarom kos soms so