Op pad na die Steenbok-gastehuis, een van vele ondernemings onder die vlerk van die dinamiese Nomuntu Ndhlovu, betrap jy jouself skielik dat jy wonder oor die konsep van ’n vlieëboerdery. Hoe lyk so ’n telery? Gaan die insekte dan nie wegvlieg nie? Stink so ’n plaas? En indien wel, sal dit help as jy ’n masker dra?
By die gastehuis verwelkom Nomunto ons by haar huis en die gemeenskap wat sy van kindsbeen af ken en liefhet. Steenbok is ongeveer 40 km suid van Komatipoort, ingedruk in die hoekie waar Mpumalanga aan Mosambiek in die ooste en Swaziland in die suide grens.
Die vliegteelaanleg is nie op hierdie perseel nie, maar Nomuntu gaan kyk gou in ’n swart plastiekkrat in ’n buitegebou: Daar wys sy vlieglarwes in haar huishoudelike kompos wat drie dae oud is, maar ’n mens kan hulle skaars met die blote oog raaksien.
Die afgelope vyf jaar al gaan haal Nomuntu algemene vullis by omliggende plase vir SiyaBuddy Recycling & Waste Management. Toe hoor sy die boere het ’n ander probleem: Hulle kosafval is besig om al hoe meer te word – meestal piesangs, suikerriet, tamaties en soetrissies.
“Dit is hoe alles begin het,”